Woensdag 16 November 2016

Skelm jag



My pa het in die destydse Suid Wes skelm gejag.  Op reservate waar niemand mag jag nie.  Hy was nie die enigste een nie.  Daai tyd was dit soos om te weier om e toll te betaal in hierdie tyd is.  Ek is duidelik my pa se kind.  Al het ek nog nooit gejag nie.  My pa was ‘n besonderse mens, maar hy het wel 2 swak plekkies gehad. 
 Nee, nie skelm jag nie. 
 Hy kon verskriklik skrik as iemand skielik agter hom praat of aan hom vat.  Dan het hy lank en onderhoudend in tale gepraat.  Die soort tale wat in Deon Meyer se boeke verskyn as sy Bennie Griessel karakter aan die woord is.  Dis nou as jy ‘n Deon Meyer boek by ‘n vriendin geleen kry, want as jy dit by die stadsbiblioteek uitneem het een of ander vroom tannie die boek met ‘n swart koukie aangeval en dan moet jy raai hoe kleurryk Bennie Griessel vloek.  Maar my pa was ‘n SuidWester gebore en getoë.  Hy kon Bennie Griessel na ‘n laerskoolkind laat klink as hy die dag geskrik het.

My pa se ander swak plekkie was dat hy maklik naar geraak het.  Vir enige iets wat fishy lyk.  Of kakkerig ruik.  Of as iemand daai nare brulbraak geluid maak wat waarsku dat opgooi naby is.  En as aldrie gelyk gebeur het was my liewe pa hulpeloos.
Toe maak hy eendag die groot fout om saammet ‘n pel te gaan jag wat swakheid nommer twee in gemeen met hom het.  Die jag self was heel suksesvol daar in die klip woestyn van Brandberg Wes se wêreld.  Maar terug by die huis toe loop die storie dat die polisie oppad is vir hul maandlikse draai om te kyk of als nog wettiglik verloop.  En die 4 vriende besluit om maar vir die wis en die onwis van die evidence te gaan ontslae raak.  Want my pa-hulle het gejag vir vleis vir hul gesinne.  Die vel met die kop, pootjies en binnegoed is afgeslag en in die veld gelos vir die aasdiere.
Die moeilikheid vir my pa en sy mede sensitiewe pêl het daar begin.  Want in die woestyn hitte die paar dae later is die binnegoed al lekker ryp.  Nou moet elkeen ‘n punt vat en loop, want hulle wil die evidence by ‘n krans gaan afgooi waar ‘n poliesman nooit sal kom nie.  Maar my pa is mal naar vir die spulletjie.  En sy maat netsoveel.  En dan maak my pa daai brulbraak geluid en dan skiet die pêl katte.  En dan is dit my pa se beurt oor die geluid van opgooi net te veel vir hom is.  En so het die twee brullend vir mekaar op die ou end die gemsbokvel en binnegoed oor ‘n krans gekry. 

Ek dink nie my pa het gou weer saammet die ou gaan jag nie.

2 opmerkings:

  1. Dit was nou ñ lekker storie om te lees. Jy het goeie herinneringe, Mariet.

    AntwoordVee uit
  2. Dit was nou ñ lekker storie om te lees. Jy het goeie herinneringe, Mariet.

    AntwoordVee uit